Walviskalfie gered

‘n Boggelrugwalviskalfie wat in Tafelbaai tussen die kaaimuur en ‘n skip vasgekeer was, is gered, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

Lede van die NSRI is Sondagaand laat in kennis gestel van die vasgekeerde walvis.

"Die kalfie was gedisoriënteerd en kon nie terugbeweeg na die opening tussen die skip en die kaaimuur nie, en hy het aanhoudend vorentoe probeer swem," het Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder gesê.

Reddingswerkers het besluit om die skip weg te skuif en die walvis sodoende meer ruimte te gee om na die oop see te swem.

"Toe die skip weggeskuif is, het bemanningslede en polisieduikers probeer om die walvis van die kaaimuur weg te kry, maar hy het verseg om te beweeg," het Lambinon gesê.

Polisieduikers het probeer omdie walvis van die kaaimuur weg te stoot, maar die kalfie het aanhoudend teruggekeer na sy oorspronklike plek. Maar ewe skielik het hy toe besluit om die sleepboot Merlot te volg.

Reddingswerkers meen die kalfie het die boot dalk vir sy ma aangesien.

Die sleepboot is gevra om die see in te vaar en die walvis het dit uit die hawe tot in die oop see gevolg."