Vliegvelde probleem vir Minister.

Die vliegtuig op julle plase en vliegvelde is dalk julle eiendom, maar die lugruim bo dié plase is nie. Dit was die uitspraak van Dipuo Peters, Minister van Vervoer, tydens die bekendstelling van vervoermaand.

Peters het gesê daar is 1,300 ongelisensieerde vliegvelde in die land. "Dit is my plaas," sê hulle. Maar sy sê: "dis nie jou lugruim nie, dit is Suid-Afrika s’n."

"Ons moet weet wat in die vliegtuie is, en of dié mense geldige lisensies het om te vlieg," het sy gesê oor probleme wat sulke vliegtuie vir lugvaartowerhede skep.

Volgens haar is daar net 135 gelisensieerde lughawens en vliegvelde en 19 weermag-lughawens in die land.

Jan Fiskaal sê hierdie lyk net na nog ‘n gryp-poging. Indien jy nou ‘n plaas koop, wat koop jy? Jy besit nie meer die minerale regte nie, ook nie waterregte nie, en nou binnekort dalk ook nie lug-regte nie. Of het die onwettigheid rondom die Guptatroue te veel in die openbare oog geskied, en dalk kan sulke ou foutjies in die toekoms met hierdie vergrype uitgeskakel word.