Vir die huisvrou – Souttert

Goeie dag dames (en mans wat ook die liefde vir kos-maak deel).

Na verlede week se heerlike Malvalekkerdroomtert, gaan ons hierdie week aan met ‘n souttert. Dit kan warm of koud bedien word – vir ‘n ligte ete saam met broodrolletjies en slaai, of saam met teetyd genuttig word.

Souttert:

Bestanddele
250g spek
250g blokkies ham
640 g weense worsies
500g gerasperde kaas
2 eetlepels gekapte pietersielie
6 eetlepels koekmeelblom
6 teelepels mostert
sout en peper na gelang
2 koppies melk
2 eiers

Metode
Snipper die ham, spek en worsies.

Voeg die kaas en pietersielie by.

Meng die meel en mostert en gooi ‘n klein bietjie van die melk by sodat dit ‘n pasta maak. Gooi dan die res van die melk by.

Voeg sout en peper na gelang by.

Klits die eiers en voeg by melkmengsel.

Meng met die res van die bestanddele.

Bak vir 30 minute teen 180°C