Vervaldatum rede vir voedselvermorsing

Suid-Afrikaners gooi meer as 9 miljoen ton kos per jaar weg, soms net omdat die vervaldatum op produkte verstryk het.

Die vermorsing wat neerkom op 30% van alle plaaslike landbouprodukte, met ‘n geldwaarde van sowat R61,4 miljard, loop regdeur die voedselketting, van die oes en berging tot verspreiding en die kombuise.

Die navorsing is deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in die land bekend gemaak.

Hoewel die vermorsing nie net aan die vervaldatums op produkte gewyt kan word nie, meen kenners Suid-Afrikaners gooi kos weg wat meestal ná die "verkoop teen"-datum heel eetbaar en veilig is, mits dit volgens aanwysings op die verpakking geberg is. Net die gehalte sal nie noodwendig dieselfde wees nie.

Dít is die grootste rede vir die aanbring van ‘n vervaldatum op kosprodukte, sê Hugo Vlok ‘n voedseltegnoloog van Kaapstad.

Prof. Lucia Anelich, ‘n konsultant in voedselveiligheid, sê vervaldatums is ‘n goeie riglyn vir die verbruiker en dat dit meer op gehalte as voedselveiligheid gerig is.