Van Jingoisme tot Sikofansie, siektes van ons tyd.

Dit verbaas my altyd as ek Afrikaners ontmoet met geen Volkstrots. Mense wat skaam is vir hulle herkoms. Dit skep die gedagte dat hulle die volk waarin hulle gebore is haat, bloot omdat dit tans blykbaar polities korrek is. As jy nie trots is oor jou herkoms nie, kan jy ook nie trots wees op wat jy is nie en kan jy gevolglik ook geen toekoms verwagting he nie. Miskien moet mens jammer voel vir hierdie identiteitlose siele?

Die feit is, hierdie mense het ‘n keuse gemaak. Eerder as om Volkstrots te he, het hulle weens negatiewe propaganda teen die Afrikaner, verkies om sikofante te word. [Sikofant = kruiper, (gat)lekker, gemene vleier (tweetalige woordeboek). – wat in vandag se tyd aanvaar word as`n pragtige beskrywende woord vir die soort liberale, knie-vallende, gat-lekkende, kruiperige, Afrikaanse persoon. Dié soort wat in skok ingaan as jy die woorde "volk" of "nasionalisme" in sy teenwoordigheid gebruik. En dié soort wat altyd meer en meer sal prysgee weens hulle politieke gedienstigheid aan hulle nuwe (vreemde) bewindhebbers.]

InEugene Marais se tyd was daar ook die soort. Hulle wou graag eerder Ingils gewees het en het Eugene Marais hulle Jingo-Afrikaners genoem. "Jingo-Afrikaans – mense so laag gevalle dat jy lus het om jou mond uit te spoel na jy hulle name noem. Ons het al baie slegte nasies en mense in ons tyd gesien, maar nog nooit iets lager of gemeener dan een Engels-gesinde Afrikaner wat sy moeder-taal – die taal door sy vaders gesproke – verag." Eugene Marais

Kan dit net propaganda wees wat die sikofante van vandag en Jingo’s van gister beweeg het tot hierdie daad van self haat?

Die joernalis Dana Snyman het na die dood van sy vader, ‘n reeks artikels geskryf waarin dit duidelik word dat hy soekend is na sy herkoms. Uit sy artikels is dit duidelik dat sy vader ‘n man was met Volkstrots, ‘n gevoel wat die sikofant Dana nie deel nie. In een artikel gaan hy op ‘n nostalgiese toer deur sy kinder lewe en besoek van die plekke wat hy saam met sy vader besoek het. Hy verduidelik hoe dit verval het en blykbaar kom hy tot die slotsom dat dit tot die verlede hoort. In ‘n ander artikel vertel hy dat hy navorsing doen oor die Snyman familie en vertel dat hy in die Kaap ‘n kleurling man ontmoet wat ook ‘n Snyman is. Probeer Snyman hierdeur homself losskeur van sy eie volk en lid word van ‘n volk wat meer aanvaarbaar is in die nuwe Reënboognasie? Miskien moet Snyman maar Langenhoven se bekende woorde ter harte neem; "Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie."

Die siekte van Jingoisme is genees met oorverdowende nasionalisme. Vandag is dit ons uitdaging om Sikofansie te genees, met ‘n dubbel dosis Volkstrots.

Ben Geldenhuys