Universiteite verswak.

Die Universiteit van Kaapstad (UK) en Stellenbosch (US) se posisie op “Times Higher Education” se wêreldranglys van universiteite het die afgelope jaar verswak.

Kaapstad, 126ste teenoor 113de in 2012-’13, is die enigste Afrika-universiteit onder die top-200.

Phil Baty, redakteur van dié ranglys, het in ‘n verklaring gesê Suid-Afrika sukkel om sy globale status te behou, terwyl ander nasies soos in Oos-Asië baie meer in hulle akademie belê.

"Sowel die Universiteit van Kaapstad as dié van Stellenbosch se posisies het verswak, wat ‘n groot bekommernis vir die hele Afrika is. Afrika het ‘n groot behoefte aan globaal mededingende universiteite om ekonomiese en politieke groei te dryf," meen hy.

Die US het sy posisie tussen 251 en 275 verloor en is nou tussen 301 en 350. Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) is steeds tussen 226 en 250.

Die California Institute of Technology is vir die derde agtereenvolgende jaar bo-aan die lys. Die ander top-universiteite is Harvard, Oxford, Stanford en die Massachusetts Institute of Technology.

Die navorsers het gesê dat wat verontrustend is, is dat voorste universiteite in Duitsland, Frankryk, Switserland, Nedrland, Rusland, België, Ierland en Oostenryk almal afgeskuif het.

Top instellings in China, Suid-Korea, Singapoer en Japan het egter hulle posisies verbeter.

Foto –Universiteit Kaapstad kampus