Suid-Afrika presteer

Die “Go Pro Ysterman" wêreldkampioenskappe was verlede Saterdag in Kailua-Kona, Hawai aangebied. Die weersomstandighede was baie gunstig en het bygedra tot puik prestasies.

Suid-Afrika se enigste professionele driekamp atleet, James Cunnama (30) van Stellenbosch, het ’n uitstekende vierde plek behaal.

Dit is die beste prestasies tot nog toe deur ’n Suid-Afrikaner in hierdie kompetisie. Sy algehele tyd was 8:21:46.

Die kompetisie bestaan uit 3,86km swem, 180,24km fietsry en 42,16km draf.

Kyle Buckingham (30) van Kaapstad het ’n nuwe wêreldrekord vir die ouderdomsgroep 30 tot 34 jaar in die amateur kompetisie opgestel. Sy tyd was 8:37:26, wat hom ook in die algehele sestiende plek geplaas het.

Nog ’n amateur Kapenaar, Mat Trautman, het 30ste geëindig met ’n tyd van 8:49:12.

Dit was vanjaar die 35ste Ysterman wêreldkampioenskap. 2100 deelnemers van 55 lande het vanjaar deelgeneem.

Die algehele wenner van die kompetisie was die Belg, Frederick van Lierde met ’n allemintige tyd van 8:12:29.

Foto – James Cunnama