SMS-geldmaak foefies.


Eers was dit AfriForum wat mense se steun per SMS gewerf het vir die behoud van Pretoria se naam. Nou probeer ander ook muntslaan uit die sensitiewe kwessie.

Spirit Purpose Network, ‘n geregistreerde nie-winsgewende godsdienstige groep, het verlede week ‘n meningspeiling as geldinsamelingsprojek begin waarin die publiek per SMS kan aandui of hulle Pretoria se naam wil behou.

Byna 2000 SMS’e teen R5 elk is teen die middag ontvang. 89.9% van die mense was ten gunste van die behoud van die naam. Werner Bezuidenhout, ‘n direkteur van Spirit Purpose Network, het gesê hulle het besluit die naamkwessie is ‘n relevante onderwerp vir ‘n peiling.

Blessing Manale, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit het gesê hulle is bekommerd oor “private entiteite” wat die belangrike kwessie kaap en probeer geld maak daaruit.

Manale sê daar word met mense se emosies gespeel deur hulle onder die verkeerde indruk te bring dat hulle ‘n stem uitbring wat iewers in aanmerking geneem gaan word.