Secunda kry groot skade

’n Verwoestende haelstorm in Secunda het ’n kerk se dak laat ineenstort onder die gewig van die hael, en die kleuters moes inderhaas deur ouers gehaal word by die kerk se kleuterskool.

Pastoor Van Wyk van die Pinkster Protestante Kerk sê hy weet nie waar hulle hul kerkdienste gaan hou nie, want alles is verwoes.

“Toe die water deur die kleuterskool se plafon bars, moes ons die ouers laat weet om hulle kinders te kom haal”.

Secunda het twee weke gelede ’n soortgelyke haelstorm gehad, maar toe was die skade veel minder as nou.

Hael, so groot soos duifeiers, het Secunda getref en letterlik alles vernietig wat voorkom. Plante en tuine is verwoes, en bome staan plek-plek sonder blare.

Talle woonhuise het strome water gekry, meestal omdat die dakke nie die gewig kon dra nie.

Afdakke het meegegee onder die gewig van die hael, en ou inwoners sê dit is die ergste haelstorm in dekades.