SA spioene spandeer geld soos 007

Die enigste rekenskap oor hoe Suid-Afrika se spioene sedert 2010 sowat R14 miljard bestee het, is so hoogs geheim, niemand weet waar dit is nie.

Dit word deur Collins Chabane, Minister in die presidensie, bevestig wat ook erken dat die verslae van die parlement se staande komitee oor intelligensie reeds die afgelope drie jaar nie deur die presidensie ontvang is nie.

Dit is ten spyte van die Wet op Intelligensie-oorsig se bepaling dat dié komitee jaarliks ‘n jaarverslag by die presidensie, parlement en die minister van staatsveiligheid (tans die presidensiële vertroueling, dr. Siyabonga Cwele) moet voorlê.

Die voorsitter van die staande komitee, ANC-LP Cecil Burgess, is die persoon wat daarvoor verantwoordelik is dat die jaarverslag ingedien word.

Die Departement van Staatsveiligheid, wat o.m. die land se binnelandse en buitelandse spioene oplei en beheer en tans die muilbandwet deur die parlement probeer loods, is verreweg die mees geheimsinnige departement in die land.

In teenstelling met alle ander staatsdepartemente is daar geen besonderhede in die regering se jaarlikse begroting oor wat met die miljarde rande (R13,7 miljard sedert 2010; R4 miljard vanjaar) gedoen word nie.

Intussen is die Suid-Afrikaanse staatsveiligheidsdienste die afgelope drie jaar geruk deur ‘n aantal skandale wat baie aandag getrek het.

 

In 2011 bedank die land se intelligensiehoofde ná ’n uitval met dr. Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, oor volle sekerheidsdienste ter waarde van miljoene rande wat tydens die hofsaak van sy voormalige vrou aan haar toegestaan is.

 

Sheryl Cwele is uiteindelik skuldig bevind aan dwelmverwante klagte. Sy is daagliks deur spioene opgepas en na die hof vervoer.

 

Gibson Njenje, hoof van binnelandse intelligensie, bedank nadat hy glo opdrag gegee het dat daar op die Gupta-familie, wat noue bande met pres. Jacob Zuma het, gespioeneer word.

 

Bewerings uit die hoogste spioenasiekringe dat wederregtelik gespioeneer word, selfs op ministers. Die sportminister Fikile Mbalula het gesê hy is afgeluister en dat spioene ’n jong vrou betaal het om te sê hy het haar swanger gemaak.

 

Die onvoorbereidheid van die regering op verlede jaar se twee ergste binnelandse ekonomiese en veiligheidsontwrigtings, naamlik die Marikana-menseslagting en die De Doorns-wingerdopstande.

 

Staatsveiligheid was leierloos vir maande vóór die aanstelling van Suid-Afrika se voormalige ambassadeur in Swede, Sonto Kudjoe, as die nuwe direkteur-generaal in Augustus.

Foto – Collins Chabane