Rjukan se eie sonstrale

Rjukan is ‘n klein dorpie in die suide van Noorweë. Die inwoners lewe al vir geslagte lank vir byna ses maande per jaar sonder dat daar ‘n enkele sonstraal op hulle dorpie skyn.

Ongeveer 100 jaar gelede het iemand voorgestel dat hulle die son se strale na die dorpie toe moet bring met spieëls.

Dit was as onprakties en te duur beskou, totdat die kunstenaar,Martin Anderson, werk daarvan gemaak het. Die geld is byeengebring en groot spieëls op die nabye bergtop opgerig met rekenaaraanpassing vir die spieëls om die son te volg en die sonstrale op te vang en dan te herlei na die markplein.

Verlede week is die projek amptelik geopen en kon die inwoners die genot van die flou son se strale in hulle dorpie ervaar. In die verlede moes inwoners, wat te veel na die son se gesonde strale verlang het, met ‘n kabelspoor teen die berg opgaan, nou het die sonstrale na hulle toe gekom.