Polisie vrot van skelms

KwaZulu-Natal se mees senior burgerlike misdaadbestryder is blykbaar self ‘n veroordeelde misdadiger.

Dit het aan die lig gekom dat Desmond Bafana Mngonyama, voorsitter van KwaZulu-Natal se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), tronkstraf vir ‘n reeks misdade uitgedien het, w.o. strafbare manslag, diefstal en die besit van dwelms.

Die onthulling volg in ‘n moeilike week vir die polisie.

Die Valke en misdaadintelligensie-eenheid ondersoek lt.genl Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiehoof, weens beweerde omkopery. ‘n Klag van regsverydeling is by die onafhanklike polisie se ondersoekdirektoraat teen genl Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, ingedien omdat sy dié ondersoek glo met Lamoer bespreek het.

Ondersoek het aan die lig gebring dat KwaZulu-Natal se GPF-hoof staan deesdae bekend as Desmond Mntambo nadat hy vroeër vanjaar sy van verander het.

Mntambo rapporteer regstreeks aan lt.genl. Betty Ngobeni, provinsiale polisiehoof, en woon gereeld vergaderings by waar sensitiewe strategieë teen misdaad bespreek word.

Willies Mshunu, KwaZulu se LUR vir gemeenskapsveiligheid, het ‘n dringende ondersoek na Mngonyama (Mntanbo) se aanstelling gelas.

Ngobeni het Mntamabo in Oktober 2012 aangestel. Luidens die nasionale riglyne vir GPF’s kan enige forumlid geskors word as hy of sy aan ‘n misdaad skuldig bevind is.

Benewens die strafregtelike klagte is Mntambo se identiteit ook ‘n raaisel. Amptelike rekords wys sy naam is al opgeteken as Desmond Bafana Mngonyama, Bafana Mngonyama, Mntambo Mkhize en Desmond Mntambo Mngonyama. 

Al die name het dieselfde ID-nommer as die een op die dokumente wat Mntambo se misdaadgeskiedenis uitstippel.

‘n Inskrywing in die Staatskoerant lui dat hy sy naam in Julie vanjaar amptelik na Desmond Mntambo verander het.

Kol. Jay Naicker, sê Mntambo is deur die GPF se provinsiale raad verkies. Die onafhanklike verkiesingskommissie het die verkiesing bestuur.

Volgens Naicker maak die GPF se grondwet nie daarvoor voorsiening dat lede aan ’n sekerheidsklaring deur die polisie onderwerp hoef te word nie. 
Mntambo word nie betaal om GPF-hoof te wees nie.