Passasier land vliegtuig

‘n Passasier aan boord van ‘n viersitplek-Cessna het die vliegtuig in die pikdonker in Brittanje veilig geland, al het hy géén ervaring agter die stuur gehad nie.

Die vliegtuig het teen sterk skemer by Sandtoft in Noord-Lincolnshire opgestyg. ‘n Rukkie later het die Humberside lughawe ‘n noodoproep per radio ontvang, waarin die vlieënier die beheertoring meegedeel het, dat hy die beheer aan die enigste passasier moet oorgee wat geen vliegervaring het nie.

Kort daarna het hy ineengestort en kort na die landing gesterf.

Twee vlieginstrukteurs is onmiddellik ontbied om die passasier per radio by te staan. Die nooddienste – ambulans en brandweer – is in ‘n staat van paraatheid gebring, die paaie rondom die lughawe is vir alle verkeer gesluit en twee inkomende vlugte is gevra om eers wye draaie te vlieg totdat die noodtoestand beredder is.

Die landingsproses het drie keer misluk voordat die passasier met ‘n vierde en stamperige poging wel die vliegtuig op die aarde besorg het.

Verskeie vlieëniers het gesê dit sit nie in elke man se broek om reg te kry wat die man gedoen het nie.