Opera-aria laat kleintjie wen

Die negejarige Amira Willighagen van Nijmegen in Nederland het beoordelaars Saterdagaand op die TV-talentsoektog Holland’s Got Talent, sprakeloos gelaat ná haar uitvoering van die aria "o mio babbino caro" (o, my geliefde vader) uit Giacomo Puccini se opera Gianni Schicchi.

Die beoordelaars was so beïndruk met Willighagen se oudisie dat hulle haar ‘n goue kaart gegee het wat haar reguit na die regstreekse kompetisie laat deurdring.

Willighagen, wat geen formele sangopleiding ontvang het nie, het ná die tyd aan die beoordelaars vertel dat sy haarself leer sing het deur na tutoriale op You Tube te kyk. 

"Dit het met Koninginnedag begin. My broer Vincent speel viool, en ek wou ook graag iets doen. Ek dink toe maar ek sal maar sing. Ek soek to op You Tube ‘n liedjie, en toe hoor ek opera. Dit was vir my baie mooi en toe sing ek dit," het sy gesê.