Onderrig in RSA skole

Die inleidende sin van ‘n koerantberig wat lui “Wiskunde-onderrig in S.A.-skole is van die swakste ter wêreld”, laat die leser onwillekeurig regop sit. Dis onmoontlik!

Dan besef die leser (gelukkig) dat hier nie verwys word na ons Afrikaanse skole wat maar ‘n voortsetting is van die vroeëre model C-skole nie. Hoe dan anders?

Ons lees jaarliks van veral matrikulante wat met ses-, sewe-, agt- en selfs meer onderskeidings spog aan die einde van hulle skoolloopbaan. In baie van hierdie gevalle, is Wiskunde een van die vakke waarin ‘n onderskeiding behaal word.

In die jare voor 1994, het heelwat  Inspekteurs  ( Superintendente ) van Onderwys  as eerste kwalifikasie ‘n graad in die Natuurwetenskappe  verwerf voordat hulle die B.Ed of een of ander nagraadse kwalifikasie verwerf het.  Baie van hulle het selfs ‘n honeursgraad voltooi wat ‘n Wiskundige- of Wetenskaplike studie behels het. Selfs doktorale kwalifikasies was nie vreemd nie. Ook skoolhoofde (veral Hoërskool hoofde,  was meestal ook B.Sc –graduandi.)  Gevolglik was die “Ruggraat” van die onderrig in ‘n Wiskundige- of Wetenskaplike rigting stewig ge-anker.  

Geleidelik het onder die onderwysers wat  graadkursusse “geloop” het, die tendens ontstaan dat hulle eerder ‘n graad in die geesteswetenskappe wou verwerf.

Die Onderwyskolleges van daardie tyd,waar onderwysers onderwysdiplomas kon verwerf, het hoofvakke aangebied wat met betrekking tot aanbieding en eksaminering deur die naaste Universiteit gemodereer was. Die wiskundeklasse ( hoofvak ),was nooit juis stampvol nie.

Dit is seker nie heeltemal verkeerd om te wonder of dit nie die eerste negatiewe invloed teenoor die Wiskundige –en Wetenskaplike studierigtings ingelei het nie. Dit was nog altyd bekend dat nie almal ‘n aanleg vir Wiskunde en Wetenskap het nie.

Tans is ‘n verslag van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap (SOO) vrygestel waarin navorsers daarop wys dat die land se leerlinge in die “2011-Trends in Internasional Mathematics and Science Study”, (Timss)  die swakste uit 21 middel-inkomste lande gevaar het.

Daar word ‘n aantal oorsake vir hierdie jammerlike toedrag van sake gebied waarvan die mees voor die handliggende is dat van die leerkragte totaal onbekwaam is om die vakke aan te bied.

Die hoof van die department van Basiese Onderwys se nasionale evaluering- en ontwikkelingseenheid  (Needu), dr. Nick Taylor,  het glo erken dat afgesien van swak vakkennis in Wiskunde, die begunstiging van onderwysers ‘n verdere probleem bied: Baie onderwysers word glo nie volgens verdienste aangestel nie en het ook  ‘n oormatige selfvertroue in hulle vermoë om die vak aan te bied.

Tydens ‘n opname onder gr.9-wiskundeonderwysers, is bevind dat 89% in die Timss –opname van 2011 met bravade gemeen het dat hulle volkome instaat was om die vak aan te bied. 

Ironies is dat die nasionale assessering van 2012 getoon het dat 91,9%  van die graad 9-leerlinge minder as 30% in Wiskunde behaal het.     

Dan ‘n verdere bekommernis: Na graad 9, vind daar ‘n hoë uitval van leerlinge t.o.v. wiskunde plaas;  baie skakel oor na Wiskundige geletterdheid  om sodoende ‘n beter punt te behaal, en ander kies heeltemal ander vakke.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het aan ‘n ministeriële komitee ‘n voorlegging gemaak  met die oog op die vakkombinasies wat tans nodig is om te slaag, die slaag persentasies per vak en die kombinasies van vakke met die minimum slaagvereistes.

Verblydend is dat een van die argument wat voorgelê word, die keuse is van Wiskundige geletterdheid in die plek van Wiskunde . Die vakbond stel  voor dat daar oorweeg moet word om Wiskunde as vak, verpligtend te maak.

Dit word gesien as ‘n noodsaaklike vak vir leerlinge wat aansoek wil doen om Universiteitstoelating. Dit bied aan voornemende studente ‘n veel wyer keuse van kursusse wat aan ‘n universiteit gevolg kan word.

Die opleiding van onderwysers in die vak Wiskunde, moet as ‘n uiters noodsaaklike aspek van die opleiding gesien word sodat voor elke wiskundeklas, ‘n onderwyser kan staan wat die vak met vernuf, deeglike kennis  en ‘n roeping aan hulle kan bied.