Olifant rou oor gestorwe makker.

Die fotograaf, John Chaney, 63 was saam met sy vrou op toer deur Botswana toe hulle op hierdie hartverskeurende toneel afgekom het.

In die veld was ‘n karkas van ‘n dooie olifant, omring deur hiënas en aasvoëls, toe ‘n ander olifant skielik uit die bosse storm en die aasdiere begin verjaag. Daarna het sy haar slurp teer om die een tand van die dooie olifant gekrul en doodstil daar bly staan.

Vir 20 minute het die geselskap hierdie hartverskeurende toneel dopgehou, maar toe verder gery. ‘n Paar ure later het hulle weer daar verbygery en tot hulle verbasing was die olifantkoei steeds doodstil op haar plek. Blykbaar het sy gedurende hierdie tyd nie een voet verroer nie, maar asof in diepe rou, ‘n laaste eerbetoon aan haar gevalle makker betoon.