OKRA / Abelmoschus esculentus

Okra is ook bekend as ‘lady’s fingers, bhindi or gumbo’. Dit is familie van Malvaceae. Die genus is Abelmoschus en die spesie A. esculentus. Hierdie plant is dalk bietjie onbekend vir ons.

Okra word gekweek in warm tropiese en subtropiese areas oral in die wêreld. Suid-Afrika se klimaat is geskik vir die plant van okra. Dit is ’n somergroente. Die woord okra het sy oorsprong uit Nigerië. 

Die Okra is ’n blommende plant en word gekweek vir sy eetbare groen saadpeul. Okra is in sekere gebiede ’n jaarplant en in ander gebiede is dit meerjarig. Die plant word 2 meter hoog.

Die plant is ook verwant aan spesies soos katoen, kakao en hibiskus. Die blare is 10 – 20 cm lank en breed en is palmvormig. Die blomme is 4 – 8 cm in deursnee met vyf wit tot geel blare met ’n rooi tot pers kol in die kelk van die blomme.

Okra (eetbare vrugte) is ’n kapsuulvorm en kan tot 18 cm lank wees met baie sade in die lobbe. Die vrug het ’n groen skil en binne is dit wit tot roomkleurig en wanneer dit in ringe gesny word om te kook, lyk dit soos ons outydse garetolletjies met segmente waarin die sade groei.

Dit is baie ryk aan vesel. Dit kan droogte en baie erge hitte weerstaan, maar ryp kan die vrugte beskadig. Dit groei ook omtrent in enige tipe grond, self kleigrond.

Wanneer die sade geplant word, moet hul oornag in water geweek word. Plant dit dan 1 – 2 cm diep. Ontkieming kan 6 dae (indien die sade geweek was voor dit geplant is) en tot 3 weke neem.

Die saailinge benodig redelik baie water. Die vrugte word baie vinnig veselrig en houtagtig en dit moet vroegtydig gepluk word vir kook anders kan dit regtig ’n probleem wees om dit sappig gaar te maak.

Die vrug word eintlik geoes wanneer dit nog nie heeltemal ryp is nie en word as groente geëet. Okra se smaak kan met aspersies vergelyk word.

Okra is baie gewild in Indiese geregte en dis ook die Indiërs wat die beste metodes het om dit gaar te maak en eet dit dan ook as ’n kerrie groente en selfs in die plek van vleis. Okra is ook bekend as gesondheidskos omdat dit baie veselryk is.

Dit bevat ook baie vitamien A, C en E, is ’n goeie bron van kalsium en dit is ook hoog in oksidante.

Daar word ook ’n groen/geel eetbare olie van okrasade gemaak wat ’n baie aangename smaak en aroma het. Wanneer okra gekook gaan word moet die vrug versigtig afgewas word en kan heel gekook word in soutwater.

Dreineer dit en dien op met ’n bottersous of met ’n hollandaisesous.

Dit kan ook in ringetjies gesny word en bv. in roerbraaigeregte gebruik word en is besonder lekker wanneer daar in die kookproses ’n paar druppels suurlemoensap gedrup word. 

Geniet u tuinwerk in Oktober, veral na die heerlike reën. Tot volgende keer.