Nobel Vredesprys

Veral sedert mnre. F.W. de Klerk en N. Mandela die Nobelvredesprys gedeel het, het denkende Boere-Afrikaners gewonder of dit nou ‘n prys of ‘n grap is. Met die nuutste wenner, ‘n onbekende Nederlandse organisasie vir die Voorkoming van Chemiese Wapens (OPCW), word die klug voortgesit.

Naas De Klerk en Mandela was daar ander ontvangers van die prys waaroor talle hulle wenkbroue gelig het. Henry Kissinger (1973) wat verantwoordelik was vir hoeveel aanvalle op soewereine state; die Verenigde Nasies (2001) wat met hulle boikotte miljoene onskuldige mense dood gemaak het; Barack Obama (2009) en die Europese Unie verlede jaar.

Die prys is tien dae nadat OPCW in Sirië aangekom het om dié land se chemiese wapens te verwoes aan die organisasie toegeken. Die organisasie het ‘n interessante geskiedenis in daardie oorloggeteisterde land.

‘n Vinnige besoek in Augustus het hulle stert tussen die bene binne ‘n paar dae laat weghol. Pres. Assad het hulle reeds in Maart vanjaar gevra om bewerings van chemiese wapens in sy land te ondersoek.

Maar met hulle uiteindelik terugkeer op 1 Oktober vanjaar, word dit vir die wêreld voorgehou asof dit ‘n groot deurbraak was wat hulle teen ‘n tiran gemaak het.

Hoe geregverdig die Nobelprys vir ‘n obskure organisasie is, wat afgesien van die gevaar vir die hele bevolking van Sirië, ingestem het om 1,000 ton hoogs gevaarlike chemikalië in ‘n paar maande te vernietig, is ‘n redelike vraag.

Vir ‘n onbevooroordeelde waarnemer, lyk dit eerder asof OPCW self ‘n wapen van massa vernietiging is wat nou deur die VSA, VN en ander belanghebbendes aangewend word om Sirië se bevolking en omgewing te vernietig, waar die betaalde rebelle nie kon slaag nie.