Mynbou – woede vlam op.


“Hier gaan oorlog uitbreek. Onthou wat in Burundi gebeur het. Broer het teen broer gedraai oor die minerale in die grond. Julle bring ‘n bloedbad na Suid-Afrika.

“As ek julle is, sal ek liewer weggaan,” het Edward Raselabe van die Leshiba-gemeenskapsforum eergister op ‘n gemeenskapsvergadering aan werknemers van Coal of Africa (CoAL) gesê.

Raselabe het gesê hy en sy stamgenote het baie grond in die Limpoporiviervallei danksy suksesvolle grondeise.

Maar volgens hom gee die regering die grond aan die regmatige eienaars en vat dit dan weer weg deur die minerale aan die mynhuise te gee.

Maar Mashudu Ramanu, wie se sake-onderneming, Terracotta Resources, aandele in CoAL het, het gesê die ontginning van die steenkool in die gebied noord van die Soutpansberg moet as ‘n “sonskyngeleentheid” beskou word.

Cobus Bronn, ‘n bestuurder van CoAL het aan die mense in die stampvol saal gesê dié mynhuis het vir al sy projekte in die Limpoporiviervallei prospekteerregte ( in verskillende stadiums van beplanning) op sowat 78,000 ha grond. Dit is gelyk aan 156,000 rugbyvelde wat 920 werksgeleenthede sal skep.

Jack Klaff, lid van die Vhembe Mineral Resources Stakeholders’ Forum, het gesê hy wil weet waar CoAL water vir al sy ambisieuse projekte in dié dor streek gaan kry. “As julle daardie gat hier by Thsipise gaan grawe, gaan dit so groot soos 3,000 rugbyvelde wees.”

Op ‘n vraag wat die mynhuis met die honderde kremetarte gaan maak op die plaas Voorburg, het Marietjie Eksteen, omgewingskonsultant, gesê CoAL besef die bome is bedreig en hulle sal verskuif word.