MultiChoice se SAUK-winskoop.

Vir net meer as R500 miljoen het MultiChoice blykbaar beheer oor belangrike regte van die SAUK verkry.

MultiChoice wat DStv en MNet besit, het onder andere die reg verkry om blykbaar aan die SAUK voor te skryf oor die eksklusiewe uitsaairegte van geleenthede soos staatsbegrafnisse. Dit volg op die sluiting van ‘n nuwe kontrak tussen die SAUK en MultiChoice.

Die kontrak bepaal onder meer dat die SAUK ‘n 24-uur nuusdiens sowel as ‘n 24-uur vermaaklikheidskanaal aan DStv moet verskaf. Die nuusdiens is al aan die gang. In ruil daarvoor sal MultiChoice R553 miljoen oor ‘n tydperk van vyf jaar aan die SAUK betaal. 60% daarvan sal vir die vermaaklikheidskanaal wees.

Die SAUK het blykbaar ook toestemming vir die gratis gebruik van al sy handelsmerke aan MultiChoice weggeteken – om te gebruik in enige DStv-bemarking.

Die kontrak is namens die SAUK onderteken deur Hlaudi Motsoaneng, waarnemende bedryfshoof, en Christiaan Olivier, waarnemende finansiële hoof.

Die Vryburger se kommentator, Jan Fiskaal sê dat hierdie verwikkelinge baie interessanter is as wat die meeste dink. 

Hierdie transaksie sou nie net die destydse die kommunistiese propaganda spreekbuis, Pravda, in Stalin se tyd verheug het nie, maar skep ook herinneringe aan die gratis brood (24-uur nuuskanaal) en gratis sirkus (24-uur vermaaklikheidskanaal) wat die Romeine tot ‘n val gebring het.