Miljoene Rand se dwelms

In Durban het lede van die polisie glo drie vermeende dwelmsmokkelaars in hegtenis geneem weens die besit van die bekende dwelmmiddel “tik” (metamfetamien), met ’n straatwaarde van sowat R7 miljoen.

Twee van die vermeende smokkelaars is op ‘n vlug vanaf Indië op die Internasionale lughawe van Durban, waar hulle geland het, agtervolg tot by ‘n derde persoon, ’n vrou in die Punt-gebied.

Die vermoede bestaan dat hulle die dwelms daar wou aflewer, maar dat iets verkeerd gegaan het in hulle beplanning.

Al drie die vermeende smokkelaars is Suid-Afrikaanse burgers.

’n Woordvoerder van die polisie sê die smokkel van dwelms word ’n al groter probleem in die land en het reeds onbeheerbare vlakke bereik.