Maar was dit n Boeremag?

Die Vryburger wil perspektief stel oor die sogenaamde “Boeremag”.

As 23 Boerseuns ’n “Boeremag” is, dan wonder ’n mens wat se “mag” sal dit wees as 230,000 van hulle stoffasie, in verset sou gaan!

Ter wille van begrip, verwys ons dus na die 23 manne as die “Boeremag” terwyl ons weet dit is ’n gelaaide benaming!

Vir meer as tien jaar, met R36 miljoen se hofkoste, het die saak uiteindelik tot ’n einde gekom – ’n saak wat in vele opsigte in omstredenheid gedompel is.

Al hierdie gebeure is ’n direkte vingerwysing na die bedenklike optrede van F W de Klerk wat die vryheid van ’n volk op bedrieglike wyse verkwansel het, vir een helfte van ’n Nobelprys.

Sonder om alles wat gedoen is en  wat beplan is, goed te praat, is daar tog ook ’n volksgevoel wat by menige in die hart vasgeslaan het.

Ons wat buite die ganse saak staan, het immers meegevoel oor die uitermatige hartseer wat ontketen is gedurende die dekade van hartverskeurende ellende, wat in hierdie land afgespeel het rondom die “Boeremag” en hulle gesinne.

Ons is saam met hierdie families hartseer en treur saam met hulle.

Ons treur oor hulle wat weens die gebeure in egskeidings betrokke was; ons treur saam met kinders wat vir onbepaalde tye bykans vaderloos grootword, met die moontlikheid om ook verguis te word.

Ons treur saam met eggenotes wat as gevolg van hulle geliefdes se optrede, vir jare ’n alleen-pad moet bewandel, te midde van steiltes en kronkels.

Ons treur saam met families wat hul geliefdes sien uitmekaar val, van oues van dae wat as ouers hulle kinders in die gevangenis moet besoek.

Hulle almal, saam met baie vriende, dink met hartseer aan hoe anders dit kon gewees het, maar hulle was oortuig van ’n daad wat verrig moes word, en wat gedoen moes word, ongeag die gevolge daarvan.

Benewens dit alles, dink ons aan die baie mense wat nou in finansiële nood is, en met ’n sukkel-bestaan die toekoms moet ingaan.

Ons is dankbaar vir die enkeles wat die tronkdeure vryspring, en wat nou met hulle lewens kan voortgaan.

Te midde van dit alles, dra ons hierdie volksgenote, en almal rondom hulle, aan die Heer op vir genade, en dat hulle in Sy wee sal wandel tot aan die einde van hulle lewe.

Die Vryburger roep elke volksgenoot op om nie kras uitsprake te maak nie, om nie te oordeel, of te veroordeel nie.

Laat ons dan biddend doen wat van ons as gelowiges verwag word – om ’n hand van vriendskap uit te steek, om te help waar moontlik en om bowe-al, begrip te toon vir elkeen se siening en standpunt.

Uiteindelik sal ons volk weer vry word, al is dit in ’n toekomstige eeu. Die God van Bloedrivier is en bly ons Heer en Meester.

 

Redakteur