Krokodil gryp vrou

‘n Reuse krokodil van sowat 5 m het ‘n paramedikus voor haar 11-jarige dogter gegryp waar sy vlak in die water gesit het en haar die dieptes ingesleep.

Danelle Viljoen (38) se lyk is nog nie gevind nie. Haar dogter, Ariel is nou wees, want haar pa is twee jaar gelede dood.

Die voorval het by Shakawe aan die noordekant van die Okavango-delta plaasgevind, waar ma en dogter saam met vriende vakansie gehou het.

Skynbaar het Danelle in die vlak water gaan sit om af te koel toe die krokodil, wie se rug byna ‘n meter breed was, uit die water gekom het, haar gevang en ingesleep het.

Inwoners van Maun het gesê dat hulle Viljoen gewaarsku het om nie in die water te gaan nie weens die gevaar van krokodille. Danelle en Ariel het albei verblyfreg in Botswana gehad, maar hulle het Suid-Afrikaanse burgerskap.