Komeet het aarde getref

Die eerste materiaal van ‘n komeet wat die aarde miljoene jare gelede getref het, is pas deur Suid-Afrikaners geïdentifiseer.

Die oorblyfsels van ‘n komeet is nog nooit voorheen op aarde gevind nie.

‘n Span navorsers van die Universiteite van die Witwatersrand, Johannesburg en van Kaapstad, asook die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika (AEK), het egter saam met internasionale kollegas die bewyse daarvan gevind.

Die geleerdes beraam dat die komeet die aarde glo 28 miljoen jaar gelede in ‘n deel van die Sahara-woestyn, in wat vandag Egipte is, getref het.

Dit sou alle lewe in sy pad verwoes het en die sand tot 2,000ºC verhit het, wat dit omgeskakel het in geel silika-glas wat oor ‘n reuse-gebied van sowat 6,000 vk. km gestrooi is.

"’n Fantastiese voorbeeld van die glas, mooi gepolitoer deur antieke juweliers, kan gesien word in ‘n borsspeld van farao Toetankamen. Dit is in die vorm van ‘n kewer gesny," het die navorsers gesê.