Jaag Krygkor direksie weg.

Krygkor se direksie moet deur die Minister van Verdediging ontbind word.

So het Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner gesê n.a.v. die feit dat Lt-genl. Mojo Motau, voorsitter en Refiloe Mokoena, ondervoorsitter na ‘n hofbevel terug in hulle poste geplaas is. Dit is die tweede keer dat Motau in die pad gesteek is en die tweede keer dat hy dit suksesvol beveg het.

Motau het in die hof aangevoer dat hy nie alleen aanspreeklik gehou kan word vir die onderprestasie van die direksie nie.

Heitman sê wat nou gebeur het is sleg vir die wapenbedryf, maar die logiese stap is nou, dat aangesien die hof gelyk gegee het dat die hele direksie onbevoeg is, kan die Minister hulle almal dus in die pad steek.

Volgens hom wurg die plaaslike bedryf reeds weens ekonomiese beperkings wêreldwyd. Enkele dae nadat die Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula van Motau ontslae geraak het, is ‘n rits kontrakte onderteken wat lewensnoodsaaklik vir Denel se voortbestaan is.

Hy sê nie alleen het Motau nie oor die weg gekom met plaaslike en internasionale vervaardigers nie, maar hy het soveel onrealisitiese vereistes aan verskaffers gestel dat die hele plaaslike bedryf tot stilstand gekom het. Hy was ook daarvoor verantwoordelik gewees dat Krygkor van sy sleutelpersone verloor het.