Inkomstegaping tussen rasse kleiner

Die inkomstegaping tussen rassegroepe is die kleinste nóg.

Die middelklas bestaan hoofsaaklik uit swartes, blyk uit ‘n twee jaar lange studie deur navorsers van die departemente ekonomie en politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch (US).

 

Prof. Hennie Kotze, ‘n navorsingsgenoot by die US se Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek, sê die studie het die hele bevolking van Suid-Afrika ingesluit.

Die deel van die middelklas wat swart is, het tussen 1993 en 2012 van 11% tot 41% toegeneem, gegrond op ‘n maandelikse inkomstedrempel van R4,100 per persoon.

Kotze sê daar is steeds ‘n reusekloof tussen kinders in verskillende gemeenskappe. 73% van kinders in ‘n hoër-inkomste-gemeenskap het toegang tot ‘n rekenaar, maar kinders in ‘n lae-inkomste-gemeenskap het byna geen toegang nie.

Fikile Mbalula, Minister van Sport en Ontspanning, het egter verlede week op ‘n besprekingsgeleentheid met ANC-lede in Johannesburg gesê die gevoel dat mense op sekere goed geregtig is, moet uit die weg geruim word.

Volgens die minister gaan transformasie nie oor statussimbole nie. "Transformasie gaan nie oor wat jy kan bekostig nie." Hy het dit die Soweto-tot-Sandton-mentaliteit genoem.

Foto – Prof. Hennie Kotze