Huise gebou vir Zuma-wagte

Pres. Jacob Zuma kon nie onbewaak gelaat word nie, daarom is nòg huise digby Nkandla gebou waar polisie- en weermaglede kan slaap.

‘n Stuk staatsgrond naby Nkandla is vir dié doel aangeskaf, het Phillip Masilo, die minister van Openbare Werke se regsadviseur, gesê.

Sowat R206 miljoen in staatsgeld is aan die bouwerk en veiligheidsmaatreëls by Nkandla, Zuma se private woning in KwaZulu-Natal, bestee.

Thulas Nxesi, Minister van Openbare Werke, het vandeesweek gesê die multi-miljoenrand veiligheidsopknappings by Nkandla was deels om te keer dat Zuma se lyfwagte 75 km na Eshowe, die naaste dorp moes ry om daar te gaan slaap. Die alternatief was dat hulle in hulle motors moes slaap.

 Sowat 20 huise is gebou waar polisie- en weermaglede kon oornag. Die staat het die grond naby Nkandla aangekoop om die huise te bou.