Honderde renosters geslag

Renosterhorings met ‘n swarmarkwaarde van meer as R1 miljard is die afgelope tien maande op wildplase en -reservate in Suid-Afrika gestroop.

Stropers het vanjaar reeds ‘n rekordgetal van 725 renosters vir hulle horings in Suid-Afrika uitgewis teryl die laaste twee maande van die jaar, wanneer voorvalle gewoonlik styg, nog voorlê.

Die swartmarkprys vir renosterhorings beloop sowat R500 000 per kilogram – heelwat duurder as goud – en die geweldige sluikhandelpryse maak dit al hoe moeiliker om arm en desperate stropers, onder meer vanuit Suid-Afrika se buurstate, van dié dodelike inkomstebron te speen. 
Teen bogenoemde prys het vanjaar se 725 gestroopte renosters se horings, wat gemiddeld sowat 3 kg weeg, minstens R1 miljard in die sluikhandel gehaal.
’n Verslag van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) vroeër vanjaar het gewys sowat 12 ton renosterhorings, met ’n swartmarkwaarde van R6 miljard, is tussen 2009 en 2012 uit Afrika-state gesmokkel.
Die verskerpte renosteroorlog in Noordwes speel af in die Madikwe-reservaat noord van Zeerust en word gefinansier deur die familie­stigting van die wapenmagnate Ivor en Eric Ichikowitz.
Die veldtog maak gedeeltelik gebruik van toerusting van dié familie se Paramount Group. 
Die enorme reservaat van 75 000 ha se teenstropings-eenheid (CPU) spog nou met nagvisie-teleskope op hul aanvalsgewere, gevorderde kommunikasievermoë en spesialis-opleiding van ’n voormalige skerpskutter in die Britse weermag.
“Ons sal nie skroom om te skiet indien ons lewens bedreig word nie,” sê Alan Ives (37), wat al in Irak en Afganistan ontplooi is en ook voorheen Amerikaanse spesmagrekrute laat bloedsweet het.
Die Ichikowitz-broers sê die Departement van Omgewingsake steun hul planne.