Groete boodskap van Wilhelm Pretorius

Vaarwel my liewe vriende en volksgenote

Dit is vir my swaar om afskeid vanaand te neem van julle. Ons het vandag gehoor dat die regter net een oogmerk het met die straf en dit is om voorbeelde van ons te maak sodat dit as afskrikking sal dien. Hy het ook ten volle die staat se betoog aanvaar en ons betoog ten volle verwerp.

Ons verwag dus dat daar swaar vonnisse sal volg en ek ’n hele ruk lank van julle verwyderd sal wees.

 

Ek weet dat baie van julle gebid het dat ons vry sal uitstap. Baie dankie daarvoor. Moenie dat dit geloof in ons Almagtige Vader skade doen nie. Jesus het ook gebid dat die beker by Hom moes verbygaan – en dit het nie. Indien Hy nie aan die kruis gesterf het nie en indien die beker by Hom sou verbygaan, sou elkeen van ons verlore in ons sonde gebly het. Die belangrike dus van gebed is om te bid ooreenkomstig met die wil van God. In hierdie geval was dit nie sy wil dat ons vry moet uitstap nie, maar dat ons wel verdere gevangenisstraf moet uitdien.

Ons weet nie altyd wat die Vader se plan met ons lewens is nie. Ons verstaan ook nie altyd waarom Hy die onreg toelaat nie. Wat ek wel weet is: Die wêreld is ons woning nie.

Dit merk ek aan die son wat wyk,

en ‘k merk dit aan die reier wat

mistroostig na die son sit kyk

op een been, in die biesievlei.

En is die laaste strale weg,

dan rys ʼn koue op uit die vlei.

ʼn Koue gril deurhuiwer my;

en ‘k sien dit dan in alle ding

wat in die skemer my omring:

die wêreld is ons woning nie.

 

Jesus het vir sy dissipels gesê: “As hulle dit aan my gedoen het, hoeveel te meer sal hulle dit aan julle doen.” Van sy twaalf dissipels het een selfmoord gepleeg, tien het die marteldood gesterf en een het gesterf in ballingskap. Die elf het nie ontbreek aan geloof nie, maar was net deur die wêreld gehaat, want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

 

Behou geloof in ons Hemelse Vader wat ons so lief gehad het dat Hy sy Eniggebore Seun gestuur het om vir ons sonde te ly en te sterwe. Hy sal ons nooit versaak nie. Laat ons volk net nader groei aan Hom en ons ten volle aan Hom oorgee in elke ding. Laat dit weer bekend staan in die wêreld dat hier ’n klein en geringe volkie aan die suidpunt van Afrika is. ’n Volkie wat by Hom alleen sal skuil en voor Hom alleen sal kniel. Hou vas aan en bid onophoudelik vir die vernuwe van ons volk se Gees dat ons waarlik vry sal wees.

Ek groet dan vanaand vir ’n wyle met die laaste woorde:

In my skemeruur se laaste tree

waar die naguil met my waak

en die maan se troostend skaduwee

my siel kom rustig maak

suis stilte in my silhoeët,

sus soelheid van sy streel

om die lot wat môre uit mag deel

met vrede te beset.

 

Sonder twyfels of vrees

wat die vonnis kan wees

brand geloof se gloed soos ’n vlam

sou die hammer dan val

in doodskadudal

ek sal staan in die bloed van die Lam.

 

Laat die Boer nou as balling

in ’n loflied verrys

om trou te bly wandel

tot die vierkleur weer hys.

 

Wilhelm Pretorius

27 Oktober 2013

Lokaal Gevangenis, Pretoria.