Genl. De Wet se horlosie gesteel

‘n Vermeende sindikaat, wat waardevolle erfenisskatte teiken, het in Bloemfontein met die Vrouemonument se eeufees verrigtinge op die Oorlogmuseum toegeslaan en twee goue sakhorlosies gesteel.

Dit is die derde soortgelyke diefstal in ‘n maand. Einde verlede maand is ‘n silwer teestel en ‘n sakhorlosie uit die Nasionale Museum gesteel. Sowat twee weke gelede het ses oorlogsmedaljes uit die McGregor-museum in Kimberley verdwyn.

Die vermoede bestaan dat dit dieselfde diewe is.

Al die voorvalle het helder oordag plaasgevind. Die sakhorlosies se onderskeie glaskaste is oopgedwing en na die tyd weer netjies toegemaak.

Die een sakhorlosie, met ‘n goue ketting, wat vermis word, het aan genl. Christiaan de Wet behoort. Die ander een het aan Phil Blignaut van die Johannesburg-kommando behoort en was in ‘n leersakkie met ‘n koeëlgat. Blignaut is in die Slag van Elandslaagte getref, vandaar die gat.

Dané van Wyk, vakkundige van die museum, het gesê dit is interessant dat juis artikels met ‘n betekenisvolle geskiedenis verdwyn het.

"Vir ons gaan dit nie net oor die artikels se monetêre waarde nie, maar om dit vir erfenisdoeleindes te bewaar.