Gaan die lekker lewe stop?

Pravin Gordhan. die Minister van Finansies, het in die parlement aangekondig dat ingrypende veranderings gaan plaasvind wat die lekker lewe van spandabelrigheid beëindig vir parlementslede.

Die inperking van spandabelrigheid, wat glo as “besparingsmaatreëls” beskryf word, sal ook van toepassing wees op staatsamptenare, munisipale en provinsiale en tot op die hoogste vlak.

Die spandabelrigheid moet gestop word, het die Minister gesê.

Daar is nie meer kredietkaarte nie, ampsmotors word gestandariseer, opknapping van ministers se huise word streng beheer, konsultante se werk word ingekort, en vliegtuig ritte word ingeperk sodat besigheidsklas slegs vir senior amptenare toegestaan word.

By staatsdiens gesellighede sal geen alkohol bedien word nie.

Die uitspattighede, soos in die geval van die Vrystaatse premier wat ’n ultra-luukse Mercedes S600 aangeskaf het teen sowat R1,7 miljoen, sal glo ook tot ’n einde kom.

Te midde van die beplande besparings, word nagenoeg R2 miljard meer begroot vir salarisse in die staatsdiens.

Kenners meen dat die 40% van die totale inkomste wat die regering ontvang, en aan salarisse uitbetaal, reeds aandui dat die vergoedingspakkette onrealisties hoog is.

Die hoë salarisse moet ook gemeet word teen die agtergrond van onopgeleide, onkundigheid, om die werk behoorlik te doen.

Gordhan is gevra of die besparings ook beteken dat die duur straler vliegtuig se aankoop ook gekanselleer gaan word.

“Ons durf nie aanneem dat alle staatsuitgawes noodwendig ’n vermorsing van geld is nie”, het hy geantwoord.

Slegs amptenare op die posvlak direkteur-generaal en hoër word toegelaat om besigheidsklas te vlieg.

Wat ministers en adjunkministers betref, sal oorsese reise voortaan so werk:

Ministers mag slegs in besigheidsklas vlieg, nie eersteklas nie;

Ministers mag voortaan net twee assistente saamneem oorsee, wat in ekonomiese klas moet vlieg;

Motors

Die BMW 530 of die Audi A6 is die deftigste soort motor wat regeringslui voortaan as ampsmotors sal mag aanskaf.

Daar sal ook geen vergoeding wees vir amptenare wat hul persoonlike motors vir amptelike werk gebruik nie.

Of die nuwe regulasies tot uitvoer gebring gaan word, is iets waaroor talle waarnemers hulle bedenkinge het.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het aan Die Vryburger gesê dat daar tot hede weinig gedoen is om die spandabelrige mense kort te vat.

Hy betwyfel dit dat daar in die toekoms anders gehandel gaan word, veral omdat geen maatreëls aangekondig is van hoe die beheer toegepas sal word nie.