Foutbal!

Hierdie naweek was propvol sport opwinding. Dit het Vrydagaand begin met die tweede promosie-relegasie rugby wedstryd tussen Oos-Transvaal en Griekwas. Hierdie wedstryd was in Nelspruit beslis en die manne van Oos-Transvaal moes met met meer as twee punte wen, omdat hulle die week tevore met twee punte aan die verloorkant was in Kimberly.

Die Oos-Transvalers het lus gelyk om weer Currie Beker rugby te speel en het die wedstryd oorheers. Hulle was uiteindelik aan die wen kant met ’n gemaklike 33-15 nadat hulle rustyd met 16-12 voorgeloop het.

Die Suid-Afrikaanse krieket span het stukke beter vertoon as in die eerste rampspoedige toets. Hulle het Pakistan in die tweede toets totaal en al oorheers en gewys hoekom hulle die nommer een gekeurde toetsspan in die wêreld is.

Die Pakistani’s het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die Suid-Afrikaners het hulle afgeransel en vir slegs 99 lopies uitgeboender. Hierna het Suid-Afrika ’n allemintige 517 lopies opgestapel. Die kolf uitblinkers was Graeme Smith met 234 en AB de Villiers met 164.

Daar was ’n moedige poging in die middelorde van Pakistan, maar hulle is uiteindelik vir 326 lopies uitgehaal in hulle tweede beurt.

Suid-Afrika het dit reg gekry om die reeks 1-1 te deel na hierdie oorwinning. Dit was ook die 100ste toets oorwinning van die Suid-Afrikaners.

Die Westelike Provinsie huil seker nou nog na hulle nederlaag Saterdag in die Curriebeker finaal op Nuweland. Alles het reg geloop vir die Streeptruie hierdie seisoen. Hulle het vir die finaal gekwalifiseer nadat hulle onoorwonne was in hierdie Curriebeker seisoen. Dis egter nie wat onthou word na ’n seisoen nie. Al wat saak maak is die span wat die trofee omhoog hou in die finaal. Dit was nie die WP nie…

Die Piesangboere van Natal het lus gelyk vir rugby. Albei spanne het hulle terugkerende bokke ingespan, maar dit was die Natallers wat die meeste impak gemaak het.

Die Visvoete was al vroeg met die rug teen die muur na ’n uitstekende onderskep drie deur Charl Macleod, die Natal skrumskakel. Hierdie vlymskerp skrumskakel het ook in die tweede helfte oorgeduik vir ’n drie.

Die eindtelling was 33-19 in die Natallers se guns nadat hulle rustyd 19-13 voor was.