Ek sien dit so!

Die Amerikaanse filmbedryf is etlike jare reeds besig met veldtogte om jongmense van hul geskiedenis te vervreem.

Daardie invloed het homself nou ook tuisgemaak in Suid-Afrika. Gaan vra gerus die deursnee Afrikaanse kind wat hy/sy dink van geskiedenis, en die eerste woorde wat jy sal hoor is: “Dis vervelig”. Seker ook gesê met ‘n skewe trek om die mondhoeke en in ‘n kerm stemmetjie.

Die waarheid is egter dat ons geskiedenis baie interessant is. Dit bevat alles wat ‘n gebalanseerde rolprent sou bevat. Daar is hartseer, aksie, dood, helde, blydskap, booswigte en vele meer.

Hoeveel van ons volwassenes ken werklik hul voorsate se geskiedenis in hierdie land? Slegs ‘n handjievol?

Is dit miskien die rede waarom ons jeug so oningelig is?

Moenie skaam wees daaroor nie…nog nie, mens is nooit te oud om ons geskiedenis te begin navors nie. Wanneer jy daardie eerste stap geneem het is daar nie omdraai nie. Die verhale van Volksplanting aan die Kaap in 1652 tot onderdrukking deur die Britte van 1795-2013 is boeiende leesstof.

Daar was oorloë en/of wrywing tussen grensboere en Xhosas, tussen Voortrekkers en Zoeloes, tussen Zoeloes en Britte, tussen Voortrekkers en Britte, tussen Boere en Britte, tussen Boere en Afrikaners, tussen Boere en Boere. Al hierdie wrywing kan met ‘n duidelike lyn teruggetrek word na inmenging en/of direkte teenwoordigheid van die Britte.

Doen jouself en jou kinders ‘n guns. Gaan lees na oor die oorsake van die Groot Trek, die latere ontdekking van goud en diamante in Transvaal en die Vrystaat. Ons land is besaai met gedenktekens, monumente en begraafplase wat ons geskiedenis van lyding en bloedvergieting uitbeeld. Maar ander wat ook vertel van heldedade en mense van inbors.

Plekke wat jy bloot moet besoek voor jy jou kop neerlê is Majuba net anderkant Volksrust, Bloedrivier buite Dundee, die Bloukrans-gedenkteken in Ladysmith se wêreld, Magersfontein sowat 35km van Kimberley, die Kasteel in Kaapstad, daar  waar alles begin het.

En natuurlik, sonder twyfel, moet jy ‘n paar Konsentrasiekampkerkhowe besoek.

Balmoral net voor Bronkhorstspruit, Irene in Verwoerdburg of enige ander plek in die Transvaal, die Vrystaat, en Kaapland, waar tientalle van hierdie massa-kindergrafte gevind kan word.

My kinders weet al, as hulle geskiedenis verhale wil hoor, kom sit hulle rondom pa se stoel en pla hom sodat hy nie kan klaarmaak waarmee hy besig is nie. Dan staan ek op, gaan maak myself gemaklik op ‘n sagte bank, en vertel my kinders wat met glinsterende ogies na my kyk, verhale uit ons geskiedenis.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie