Eis van miljoene toegestaan

‘n Tegniese tekenaar wat ‘n paar maande voor haar troue saam met haar verloofde in ‘n padongeluk betrokke was, moet ongeveer R8 miljoen van die Padongelukkefonds (POF) kry.

‘n Kurator namens Claudine Labuschagne (29), van Hartswater, het ‘n skikking met die POF bereik waarvolgens die fonds R8,084,846 aan haar sal betaal. Die skikking is in die Pretoriase Hooggeregshof bekragtig.

‘n Eens intelligente Labuschagne, wat ook ‘n model was, het ernstige beserings, waaronder breinskade, in die botsing op 25 Julie 2008 in Kimberley opgedoen. Sy en Johan van der Merwe sou op 6 Desember op ‘n plaas by Koffiefontein getrou het.

Die twee was in ‘n motorongeluk betrokke nadat Van der Merwe vir iets uitgeswaai het en beheer oor die bakkie verloor het. Hy is in die voorval dood.

Vier van Labuschagne se nekwerwels is gebreek en sy het ribfrakture, borsbeenfraktuur, gekneuste longe en ‘n bekkenfraktuur opgedoen.

Sy is sedert die ongeluk ‘n regsydige hemipleeg, het spraakprobleme en stik maklik.