Die inligting is vertroulik.

‘n Hofsaak oor die prosedures wat die Regterlike Dienskommissie (RDK) volg om regters aan te stel, is gister na ‘n hoër rat oorgeskakel.

Dit het gebeur nadat die RDK gister tande gewys het vir die Helen Suzman-stigting oor ‘n versoek om transkripsies bekend te maak van gesprekke wat RDK-kommissarisse agter geslote deure oor regterskandidate gehad het.

‘n Geding waarin die Helen Suzman-stigting ‘n verklarende bevel vra oor die RDK se aanstelling van vier regters verlede jaar in die Wes-Kaapse Hooggeregshof is tans in dié hof aan die gang.

Dit sluit ook in die RDK se besluit verlede jaar om adv. Jeremy Gauntlett (vir die vierde keer) nie vir ‘n regterspos aan te beveel nie. Die RDK het verskeie kere onder skoot gekom omdat hy glo wit regslui oor die hoof sien, en met dié aansoek word die bewering nou getoets.

Adv. Johan Kruger, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, het gesê daar is al beslis dat die RDK se besluite hersien kan word. Dit is ook van kardinale belang dat die RDK se prosesse deursigtig moet wees sodat sy besluite bo verdenking is, het Kruger gesê.