Dames beter as mans

Motorbestuurders wat met sorg en bedagsaamheid hulle voertuie van een punt na ’n ander bestuur, is dames en beslis nie mans nie.

Dit is die bevinding van ’n Versekeringsmaatskappy wat in ’n studie sowat 10,000 mense beoordeel het. Die studie is gedoen oor ’n tydperk van meer as twee jaar, waarin sowat 800 miljoen km afgelê is deur die motoriste.

Wat insiggewend is, is dat die verslag aandui dat die stad Port Elizabeth die beste bestuurders in die land het. Kaapstad is glo tweede, gevolg deur Johannesburg, Pretoria en Durban.

Die Versekeraars het bepaalde norme gebruik om hul bevindings te maak, soos hoeveel mense hard op die rempedaal trap, die draaie se hoek sny, vinnig ry en vinnig wegtrek, asook hoeveel ongelukke plaasvind.

Mense in luukse, Duitse motors, is glo die swakste bestuurders.

’n Woordvoerder van ’n ander bekende Versekeringsmaatskappy, het aan Die Vryburger gesê dat die bevindinge ietwat vreemd klink, aangesien die taxi voertuie se padgedrag ’n beduidende invloed uitoefen met so ’n opname.