Chemiese wapen ondersoek begin

Kundiges van oor die wêreld se waghondliggaam oor chemiese wapens sal vandag begin om Sirië se voorraad toksiese wapens te inspekteer.

‘n Ooreenskoms hieroor is Vrydagnag in Den Haag, Nederland, deur die uitvoerende raad van die organisasie vir die afskaffing van chemiese wapens (Organisation for the Prohibition of Chemical Weapons, OPCW) bereik.

Die organisasie se eerste taak was om ‘n beroep op lidlande te doen om kontant te skenk, nie net vir die vernietiging van die wapens nie, maar ook vir die aanstel van ekstra personeel.

Sirië se president, Bashar al Assad, het daarin geslaag om ‘n aanval wat teen hom gemik was, netjies om te keer en die hele probleem in die hande van die Amerikaners en hulle volgelinge gelaat.

Die chemiese wapens is in die eerste instansie deur Amerika vervaardig vir die voormalige Irakese president, Saddam Hussein in sy oorlog teen Iran. Met die Amerikaanse inval in Irak, het hulle dit in Sirië gaan stoor.

Die beskuldiging dat Assad die chemiese wapens gebruik het, hou nie water nie. Assad het al die gebiede wat deur die rebelle beset was, van Allepo tot verder noordwaarts teruggevat. Hy was besig om die rebelle terug te dryf tot in Jordanië en Turkeie; bowe alles is sy volk verenig agter hom en is die sg. Vrye Siriese Mag (Free Sirian Army) huursoldate wat uit 35 lande afkomstig is, waarvan 90% nie eers Arabies kan praat nie en deur Amerika, Engeland en Frankryk befonds word.

Assad het geen rede gehad om van chemiese wapens gebruik te maak nie – die rebelle wel.

Maar intussen sit Assad met hierdie hoogs gevaarlike wapens wat in sy land is, en die probleem is dat dit miljarde Rand, en die kennis van hoogs opgeleide spesialiste gaan kos, om van hierdie gevaarlike toksiese chemiese wapens ontslae te raak.

In ‘n onderhoud met Amerikaanse joernaliste wat hom in ‘n hoek probeer dryf het, het hy gesê dat die Amerikaners welkom is om die toksiese wapens vir hulleself te vat en op Amerikaanse grondgebied te gaan vernietig.

Wat hom betref hoe eerder hoe beter.

Sirië se wapens moet nou binne nege maande vernietig word – ‘n proses wat lande soos Rusland en die VSA meer as tien jaar geneem het.

Assad sit rustig terug, want die Amerikaners het die tydperk bepaal en hoewel hy weet dat dit onmoontlik is, is die hele probleem van sy hande af.