BMW het genoeg gehad

Volgens ‘n berig van Agence-France Presse op 4 Oktober het BMW bekend gemaak dat die beplande investering op produksie-uitbreidings in Suid-Afrika terug getrek word.

Die staking wat in die land ondervind was en die buitensporige eise het veroorsaak dat BMW se goeie naam met die betroubare lewering van kontrakte in die gedrang gebring is. BMW het veral ‘n terugslag beleef met die afname in produksie van sy gewilde 3-reeks sedan motorvoertuie wat daagliks slegs ‘n kwart van die nodige produksie kon lewer.

Die vakbond Numsa het van meet af te kenne gegee dat hy minstens ‘n dubbelsyfer verhoging vir sy lede wou hê en dit het veroorsaak dat die staking onnodig uitgerek was met groot produksie verliese. Die land het die verkope broodnodig gehad vir sy sukkelende ekonomie en uitvoere om sy negatiewe handelsbalans te help verminder.

Die boodskap wat met BMW se besluit gegee word, word ook toenemend van ander nyweraars gekry en die land is besig om toenemend agter te raak in Afrika as ‘n voorkeur investeringsland. Die gebrek van die ANC-regime om sy land se groot nywerhede te ondersteun moet gesien word teen die agtergrond dat die vakbondwese ‘n belangrike regeringsvennoot is en hom voordurend onder druk hou vir die uitvoering van die nasionale rewolusie beloftes wat hy onderneem het.