Belastinggeld is uitgedeel

Die omstrede Nasionale Jeugagentskap (Nyda) het blykbaar, soos talle ander gevalle in die regering, ook hulle beurt gekry om “aalmoese” uit te deel en daarmee ’n bedrag van R220 miljoen in die rioolsloot laat val.

Dit is die mening van ’n erkende ekonoom, in reaksie op die bekendmaking dat die Nyda uitgedeel het asof dit ’n welsynorganisasie geword het.

LP’s het die Nyda glo in ’n staande komitee vir openbare rekenings (Skoor) oor sy geldsake pak gegee.

Die uitdeel van R220 miljoen se “lenings aan jongmense” waarvan die kans op verhaling uiters gering is, was ter sprake.

Yershin Pillay, Nyda-voorsitter, het gesê die agentskap probeer jongmense help wat klein ondernemings wil begin.

Hy sê die agentskap sal nie meer geld aan entrepreneurs bied nie, maar bied ’n  toelae wat tot R100 000 kan beloop aan jongmense.

Blykbaar kon niemand die teenstrydighede verstaan nie.

Op ’n vraag wat die kans is om die geld terug te kry, was die antwoord dat daar maar ’n skrale kans is.

Een parlementslid het opgemerk dat die agentskap nou die funksie het om maatskaplike toelaes uit te deel.

Die opmerking is ook gemaak dat die Nyda homself nie ’n klop op die skouer kan gee nie, oor R62 miljoen wat uitgemors is, sonder dat enige wetlike voorskrifte nagekom is.