Aloe dichotoma / quiver tree / kokerboom

Die kokerboom is tot die aalwyne (Asphodelaceae) familie.  Die aalwyne is ’n Afrika-genus van vetplante waarvan net enkele tot bome kan uitgroei.  Kokerbome kom spesifiek in die Noord Kaap omgewing en Suidwes-Afrika voor.  By die San-mense staan die boom bekend as die Choje.  Kokerbome kom ook voor in die droë gebiede van die Karoo.  Dit is nie dieselfde boom as die boomaalwyn nie.  Die vorm en ook die stam verskil heeltemal van die boomaalwyn.

Hierdie bome is klein met kenmerkende dik stamme en ’n digte, geronde kroon.  Die blare van die kokerboom is tipies van ’n vetplant, vlesig en sag wat saf afgee wanneer dit fyngedruk word.  Die blare het ’n blougroen of geelgroen kleur.  Soos ander aalwyn-plante het die blare ’n rand met klein geelbruin tande wat soos dorings kan steek.  Kokerbome dra heldergeel blomme wat in are bo die blaar roset voorkom.  Die boom se vrug is in die vorm van ’n kapsule.

Kokerbome hou van ’n droë warm klimaat en is nogal rypgevoelig.  Dit is ’n stadige groeier en is dus nogal ’n duur plant om aan te skaf.

Daar is ook op ’n paar plekke in Suidwes-Afrika en ook in Suid-Afrika kokerboom woude.  Dit is by Keetmanshoop en Nieuwoudtville  en is pragtig om te sien.

Die Boesmans van vroeër  jare, het die bas van kokerbome gebruik om kokers vir hul gifpyle te maak.

Dit is mos Oktobermaand en die plante en veral rose is te pragtig aan die blom.  Dis ook tyd vir bolle, soos varkore, amarillis, irisse, ens. te plant.  Ons kan ook nou ons clivias en varkore verdeel en uitplant.  Gee u roosbome sommer goed water. 

Geniet al die kleur in u tuin en mag u heerlike reën ontvang.