Allan Gray rykste in RSA

Die stigter van ‘n maatskappy wat derduisende mense se aftreegeld bestuur, is heel moontlik een van die gelukkigste afgetredenes in Suid-Afrika.

Die 75-jarige Allan Gray, wat die gelyknamige batebestuurder op die been gebring het, is die rykste Suid-Afrikaner volgens ‘n lys van Afrika se rykstes wat die Nigeriese saketydskrif, “Ventures Africa” opgestel het.

Gray se skatte word op ongeveer $8,5 miljard beraam.

Allan Gray is die grootste Suid-Afrikaanse batebestuurder in private besit, en bestuur meer as $30 miljard. Gray is ook die stigter van Orbis, ‘n batebestuurder in Bermuda wat $21 miljard bestuur. Hy en sy gesin is die beherende aandeelhouers in beide maatskappye.

“Ventures Africa” sê sy ondersoek na Afrika se rykstes is die deeglikste nog. Volgens sy navorsing is daar tans 55 dollar-miljardêrs in Afrika en hulle rykdom beloop altesame $143,88 miljard.

Die rykste magnaat is Aliko Dangote, wat van suiker tot sement vervaardig. Volgens Ventures Africa beloop sy rykdom $20,2 miljard. Dangote is ook boaan die tydskrif Forbes se lys van Afrika se 40 rykstes wat in November 2012 opgestel is.

Volgens Forbes was Nicky Oppenheimer en Johann Rupert en hulle families verlede jaar die tweede en derde rykstes in Afrika, maar hulle beklee onderskeidelik die vyfde en sesde plek op Ventures Africa se lys.