Aartsbiskop sê Skotte word vir 800 jaar vertrap

Die Aartsbiskop van Cantebury, Justin Welby, het gesê dat die Engelse die Skotte vir 800 jaar sleg behandel het. Maar nou word daar gevrees dat sy opmerking weer die Skotse onafhanklikheidsdebat kan aanvuur.

Die Hoogwaardige Welby het die Skotte as martelare van Engelse onderdrukking geskilder en het gesê dat die Skotte nie daarvan hou om saam met Engelse te werk nie.

In die massa-media word gerapporteer dat hy dit as ‘n grap bedoel het, maar daar word nietemin gevrees dat hierdie uitspraak wel ‘n invloed op die onafhanklikheidsreferendum kan hê wat volgende jaar, September gehou word.

Mnr. Welby het dié uitspraak in Ysland gemaak toe hy sy skema van lae rente koöperatiewe kredietbanke bekend gestel het.

Hy het finansiële instellings wat kort termyn lenings teen hoë rentekoerse maak, veroordeel en gesê hulle sakepraktyk is gelyk aan woekerwins waarteen Moses al gewaarsku het.

"Dit is so ‘n kragtige beweging, dat ons selfs saam met die Skotte kan werk," het hy aan ‘n gemeente in die Reykjavik Katedraal gesê. Volgens hom is dit op sigself ‘n wonderwerk, gesien in die lig dat die Engelse die Skotte vir eeue vertrap het.

Die Engelse is woedend oor die feit dat ‘n Engelse geestelike so eerlik is oor die wandade van sy volk.

Die Aartsbiskop het ook na die Yslandse bankskandaal verwys toe drie groot leningsbanke in duie gestort het. Hy’t gesê dat Ysland steeds die pyn dra van wat vyf jaar gelede daar gebeur het, maar in Engeland, wat nie soveel trauma beleef het, is daar nie ‘n gemeente wat nie sopkombuis bedryf om vir die hongeres te sorg nie.

Hy het gesê daar is ‘n erfenis van kranksinnige materialisme in Brittanje waar hulle steeds nie ‘n sinvol kan uitwerk hoe om vir die aremes kos te gee nie.