Zuma dalk aangekla?

Die kanse dat pres. Jacob Zuma weens dieselfde redes as Richard Mdluli weer in die hof kan beland, word ’n sterk moontlikheid.

Dit is die mening van n senior regsgeleerde wat verkies om anoniem te bly.

Die Hooggeregshof het beslis dat strafregtelike aanklagte en tugstappe weer teen Richard Mdluli, die geskorste hoof van die SAPD, ingestel moet word.

Gerugte vlieg rond dat Mdluli baie na aan pres. Zuma is, en dat daar ’n moontlike  verband kan bestaan wat ondersoek mag vereis.

Adv. Mokotedi Mpshe, het in 2009 besluit om die president nie te vervolg nie. Dit is byna ’n soortgelyke situasie as met Richard, wat ook nie vervolg sou gewees het nie as daar nie ’n geding begin is wat uiteindelik die beslissing gelewer het dat hy wel vervolg moet word.

Adv. Johan Kruger, direkteur van die sentrum vir grondwetlike regte, het by navraag gesê: “In Zuma se geval is dit dus van die grootste belang dat die inligting en feite waarop Mpshe gesteun het toe hy die aanklagte teen Zuma teruggetrek het, beskikbaar gestel word om te bepaal of dié besluit redelik en rasioneel was.

“Indien bevind sou word dat Mpshe se besluit nie aan die toets van redelikheid en rasionaliteit voldoen het nie, kan die president homself moontlik in dieselfde bootjie as Mdluli bevind.”

Prof. Pierre de Vos, ’n kenner van grondwetlike sake, sê die hofbevinding hou gevolge vir Zuma in.

Hy het gesê Zuma, “wat reeds miljoene rande belastinggeld bestee het om die hof vry te spring, sal moet kennis neem van die bevindinge”.