Witkruisarende se omgewing veiliger

Die witkruisarende wat by die Wonderboompoort in Pretoria hulle nes gemaak het, kan nou met groter veiligheid na hulle nes gaan nadat die sigbaarheid van oorhoofse kragdrade verbeter is.

Die beskermers van die arende het uiteindelik daarin geslaag om na ’n stryd van byna ’n dekade, uiteindelik die kragvoorsiener oortuig dat die drade meer sigbaar gemaak moet word om te verseker dat die arende nie daarteen vlieg nie.

Mnr. Pieter Saunders en sy vrou, Natasja, tree op as koördineerders van die Wonderboom-projek vir stedelike witkruisarende reeds sedert 2004 en het die projek by die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) geaffilieer.

Gedurende 2005 is die witkruisarende se mannetjie dood toe hy teen ’n kragdraad in die omgewing vasgevlieg het.

Sedertdien is daar ’n stryd gevoer om die drade meer sigbaar te maak, en dit het nou uiteindelik gebeur.

Flappende voorwerpe is aangebring om seker te maak die voëls sien dit gou raak, want bewegende voorwerpe word gouer waargeneem, en dit verseker dat die arende nie tussen die drade deurvlieg nie, want dit is dan wanneer hulle dood geskok word.

Witkruisarende hou hul maat lewenslank, maar Kulinda het na haar maat se dood, ’n jonger mannetjie as maat gekry.