Vrystaat boere herleef 1836 grensoorlog

Die boere naby die grens van die Bergkoninkryk, Lesotho, beleef iets van die Grensboere se “hel op aarde” soos in die jare 1836 aan die Oosgrens, voor die Groot Trek begin het.

’n Herhaling van die grensoorlog van weleer is aan die broei met die menige boosdoeners wat oor die grens kom en boere beroof, en soos destyds, hulle plase se weiding aan die brand steek.

Dié gevoel van ’n broeiende oorlog is werklikheid, sê mnr. Douglas McDonald, die eienaar van die bekende gaste-plaas en perdestoetery, “Lions Rest”, in die distrik van Ficksburg, in die Oos-Vrystaat.

Sy plaas is binne agtien maande, nege keer deur die booswigte aan die brand gesteek, en talle boere vrees vir hulle geliefdes se veiligheid.

Die veld word snags aan die brand gesteek en boere raak nou raadop en moedeloos oor die situasie.

Benewens die brande, is veediefstal aan die orde van die dag. Mnr. McDonald sê dat vyf van sy beste teelperde, en ’n vulletjie van R2 miljoen, is gesteel en oor die Caledonrivier na Lesotho gejaag.

Castell Musgrave, plaasbestuurder van die buurplaas Ebenhaezer, loop ook die afgelope twee weke deur weens diefstal en brandstigting, en hy meen te min polisie is in die gebied ontplooi.