Vrou van 64 stel rekord op

Diana Nyad van die VSA het 64 somers agter die rug, het vier keer probeer doen wat sy nou gedoen het, en is daarmee die eerste mens ter wereld wat die geskiedenisboeke bereik het met so ’n prestasie, toe sy die 170 km afstand in die oop see tussen Kuba en Florida (VSA), sonder die beskerming van ’n haaihok deurgeswem het.

Verlede Saterdagoggend het dié formidabele vrou by ’n seiljagklub in Havana, Kuba, die bloudam trotseer en 52 uur, 54 minute en 18,6 sekondes later, moeg, tam en koud, op die seesand van “Key West” se strand in Miami uitgestap. Dit was Nyad se vyfde poging nadat sy weens stormweer en jellievis-aanvalle haar vier vorige pogings moes laat vaar.

“Ek het drie boodskappe vir almal wat wil hoor,” het ’n moeë, maar ’n opgewonde Nyad aan die skare gesê.

“Een, moet nooit, ooit opgee nie. Twee, ’n mens is nooit te oud om jou drome na te jaag nie, drie, dit lyk soos ’n alleenmens sport, maar dit is absoluut ’n spanpoging.”