Verval ook in Padongelukkefonds sigbaar

Die Padongelukkefonds (POF) word eersdaags vervang met ’n nuwe struktuur onder die benaming van die Padongelukke-voordeelskema (POVS) wat waarskynlik nog vanjaar deur die regering goedgekeur gaan word.

Na verwagting sal die nuwe “skema: volgende jaar inwerking tree met aansienlik minder voordele as wat tans in die POF gesetel is.

Ronald Bobroff, president van die Vereniging Persoonlike Skade-prokureurs, meen dit is slegte nuus vir Suid-Afrika, want talle regte word van mense ontneem.

Hy wys daarop dat voordele op private gesondheidsorg, asook die uitbetaling van ’n groot enkelbedrag, en die assessering van eise deur ’n hof, sowel as onafhanklike regsverteenwoordiging verbeur word. Verder word vergoeding vir ’n leeftyd se pyn en lyding, en die verlies van lewensgenietinge en vergruising ook verbeur.

Volgens Bobroff sterf 15 000 mense elke jaar in padongelukke in Suid-Afrika en word sowat 300,000 beseer.

Tiyani Rikhotso, ’n woordvoerder van Departement Vervoer, sê met die voorgestelde POVS, word daar nou weggedoen van die stelsel wat op versekering gebaseer is. Dit is glo ’n verouderde stelsel wat sedert 1946 in die land gebruik is.

Die nuwe sisteem maak voorsiening daarvoor dat slagoffers vir voordele kwalifiseer ongeag of hulle vir die ongeluk verantwoordelik is, al dan nie.