Verrassing vir drie boewe

Mnr. Derick Cave van Victory Park, Johannesburg het ’n geselligheid by sy huis gehou waar hy sowat 25 gaste onthaal het toe drie gewapende boewe hulle wou beroof.

Een van die gaste het egter nie op hom laat wag nie, sy eie handwapen uitgeruk, en die een boef drie boontjies in die bors gegee waarna die drie boewe inderhaas op die vlug geslaan het.

Die gewonde knaap kon egter nie vinnig genoeg vorder nie, en is tans onder bewaking in die hospitaal, waar hy soos ’n voëltjie gesing het om die ander twee te verklap aan die polisie.

Die voorval het plaasgevind in een van die talle gebiede waar kragonderbrekings voorkom omdat oproerige stakers die kragtoevoer beskadig het, wat tot ernstige kragonderbrekings in sekere gebiede van Johannesburg gelei het.

Een van die skurke se vuurwapen is op die toneel gevind en die meeste van die gesteelde goed is terug gevind.