Verlamde word hoofseun


Die nuutverkose hoofseun vir 2014 van Goudveld-Hoërskool in Welkom, Lafras Fritz (18), was drie jaar gelede in ’n motorfietsongeluk betrokke, en sy lewe het vir weke aan ’n dun draadjie gehang.
Lafras het egter herstel, maar is as gevolg van die ongeluk, gedeeltelik verlam.
Vir hom was dit maar ’n senutergende uitdun met die verkiesing van ’n hoofseun, en toe hy verneem dat hy op die kortlys is, het die spanning verhoog.
Hy sê om hoofseun te wees, is vir hom ’n wonderlike uitdaging, wat saamval met ’n groot verantwoordelikheid.
Wat hom ’n gewilde leier maak, is eerstens omdat hy verkies iets eerder self te doen te midde van sy bewustelike gebreke.
Saam met sy nuwe verantwoordelikhede volgende jaar, is daar ook die aangename wete dat sy nooientjie, Saschke van der Merwe, die nuutverkose hoofmeisie vir 2014 is.
Lafras het vroeër vanjaar met die Nedbank- nasionale kampioenskappe vir gestremde atlete. in Pretoria twee goue medaljes verower.
Hy wil graag siviele ingenieurswese studeer, en mik daarvoor na die Universiteit van Stellenbosch.