Tweede operasie na slangbyt

Die jong dogtertjie, Mikayla Robbertse (7), van Ellisras moes weer ’n operasie ondergaan nadat sy twee jaar gelede deur ’n spoegslang gebyt is.

Mikayla was kwalik 5 jaar oud toe die Mosambiekse spoegkobra haar aan die hand gebyt het waarna sy ’n operasie moes ondergaan.

Haar moeder, mev. Charmaine Robbertse, sê sy moes verlede week baie gou na die hospitaal in Pretoria jaag toe hulle vasgestel het dat ’n vinger aan haar linkerhand waaraan sy gebyt is, tekens toon dat die vel verswart.

Die oorgeplante vel wat met die eerste operasie oorgeplant is, was blykbaar te styf getrek en het die verkleuring veroorsaak.

Met die tweede operasie is die vel ietwat losser gemaak en draadjies is om die een vinger geheg om seker te maak die vinger bly reguit tot die oorplanting finaal gevestig het.

Mev. Robbertse het later gesê hulle was bekommerd dat sy haar vingertjie kan verloor, maar nou het hulle meer gemoedsrus dat alles reg sal gaan.